Lichies Omgee kyk terug

Lichies Omgee kyk terug na 2011. En kan nie anders as om te getuig dat die Here op wonderbaarlike wyse in alles ons behoeftes voorsien het. Ons wil graag die volgende persone en instansies uitsonder:
Lafarge Sa wat 350 geskenkies vir Bejaardes gegee het, Afrisam wat ook vir hierdie  bejaardes geskenke gegee het , hulle Kersmaaltye voorberei het en Kerstafelversierings gemaak het! Nwk bestuur het die personeelbydraes se waarde verdubbel en hulle het ook skryfbehoeftes vir 220 kinders voorsien, kookolie is deur Epko geskenk en Noordfed het vroeer die Jaar Meel en Mieliemeel gegee. Gunter en Gerhard het 'n groot deel van die amper 6yon mieliemeel gegee. Dawid het ook drie opeenvolgende jare mielies ingery!  
Ons 2011 Kers geleenthede  was die volgende, moontlik gemaak deur Individue en Instansies in Lichtenburg en Coligny:
 ***Kersbederf vir  Bejaardes -  in die tehuise
Lichthuis 120
Kosmos    35
Najaarsrus 39
Onse Rus   61

***Kersbederf vir Kinders
40 in Coligny
en 160 in Lichtenburg

***Kerskospakkies vir
25 in Coligny en
175 in Lichtenburg

Dankie Julle

NWK Maak 'n verskil

Terloops-

Nwk se personeel het ook bygedra , dit was al die blikkies, Dis ingedien met betaalstrokie aan . Die strokies se totale is bymekaargetel - en dit het die som van R4200 opgemaak - waarna Nwk Bestuur die bedrag verdubbel het en die kookolie is daarmee aangekoop.


Hierdie bydrae bewys net dat mens nie vir 'n oomblik moet glo dat jy as individu nie 'n verskil kan maak nie. Saam saam maak ons 'n reuse verskil. ***Dankie

Getuigskrif


Hierdie is 'n getuigskrif vir Lichtenburg en Coligny mense! Julle het harte van goud, gee, het lief en dien! Met julle bydraes het ons in Desember 2011 200 Kospakkies versprei.

In 2011 alleenlik het julle die verspreiding van 650 pakkies ter waarde van ongeveer R300 elk , moontlik gemaak. Die inhoud van al die pakkies het so gelyk: 4760 blikkies kos, 5450 kg mieliemeel, 1800kg koekmeel, 1200 pakkies jellie en poeding, 920 pakkies 200g sojavleis, 300kg maalvleis, 500kg suiker, liters en liters kookolie , en nog ander items ook! Julle het klere afgelaai, skryfbehoeftes gegee vir 220 kinders, 350 bejaardes is bederf met geskenkies, kersmaaltyd om kerstafels en 200 kinders het geskenkies gekry, asook 'n partytjie, elke donasie wat ontvang is , elke boer wat mielies ingery het, elke blikkie kos, elke item - daarvoor wil ons dankie se. Trek uit Lichtenburg, emigreer? - nooit sal julle daar sulke omgee-mense kry nie.

December 2011

Dis Desember 2011 en  200 pakkies  is gereed vir verspreiding. Vier Omgee mense,  wat ook in die ry moet staan vir kospakkies,  is 45minute te vroeg om te kom help oplaai. Omgee-hande daag op met karre en bakkies en dit word ywerig opgelaai.  Ons eerste stop is om die hoek en ‘n man kom kry verlee  sy pakkie meel, groot sak met blikkies en een kilogram maalvleis. Daarna stop ons regoor die tronk, by ‘n mamma met vier dogtertjies. Sy is baie bly om ons te sien en  haar dogtertjies help meel, kookolie en lekkers dra, ons  ry weg met vroee Kerswense. In ‘n plek, wat vir my lyk soos ‘n toegeboude stoor , is ‘n jong pappa besig om vir sy babaseun kos te gee. Drie kinderbedjies , drie hangkaste, ‘n dubbelbed, tv op tafel en sitkamerstel staan ingeprop in die een vertrek. Sussie vertel opgewonde dat sy laas week by die omgee kinderpartytjie by Lichtenburg Dros was. Twee bejaardes tannies bly in  ‘n ou huisie, die swart kat met rooi nekbandjie wag ons op die stoep in. Tannie Joe, gaan haal dadelik die items wat sy van oulap en afvalllap gemaak het, wat ons twee weke terug daar afgegee het, om te spog – ‘n drasak en twee halwe bloese. Sy gebruik haar hande, naald en gare vir die items. Om die hoek laai ons kos af by ons helpers en hulle families – 13 pakkies – word afgelaai. Baie van hulle bly in die karavane op die perseel daar. Twee vroue is karwagte en so ook twee van die mans. Hulle ontvang met  glimlagte op sonbruinvelle -ook die pakkies koekies en mandjies met vrouegeskenke – geskenke geskenk deur Renette en Rudi  van Cinderella  secret. Ons is baie trots op die geskenkies waarop Cinderella Secret - die LICHIES Omgee logo opgesit het! Die bejaardes kry een van die geskenkies geskenk deur Lafarge Sa – ‘n toiletsakkie met hulle name op, en ek kry ‘n warm drukkie.

Onse Rus Ouetehuis

2 DESEMBER 2011 kry 60 oues by Onse Rus ouetehuis ‘n omgee-kers-bederf. Ons besef gou hierdie oues is nie die spreekwoordelike bejaardes nie. Hulle sit ywerig hulle kershoedjies op en sit om die lang tafels afwagtend en luister na Adri Botha en haar dogter , Rozanne Botha - wat hulle vermaak met  klavier -en vioolspel.  Kersliedere word gesing , onder begeleiding van Adri en Rozanne.  Met die uitdeel van die **geskenke , loer loer hulle in die sakke. Wat ‘n heerlike verrassing ‘n toiletsakkie met elk se naam op , ‘n kniekombers , en nog items! Hulle smul aan egte boerekos, en sommige kom weer en weer vir die aartappels.  Die bejaardes help afdek, ruim op  , was skottelgoed en help selfs om al die lee bakke in die  bakkie te laai. Ek en Annetjie en Lorraine kry nie net Blomme of ‘n geskenkie nie, maar ook ‘n goedvoel vel en mooi gekreukelde glimlagte voor ons wegry! Onse Rus ons sien uit na volgende jaar. ***dankie aan Afrisam & Lafarge vir die geskenke en Afrisam vir die tafelversierings en heerlike boerekos!